2006-08-09

INLIG AKTUEEL 25/2006

Saamgestel deur ABID

Spyt?
GEESTELIKE WAARDES: Die Burger, 28/07/2006

PARTY sê selfvoldaan hulle sal nie langer meer sê hulle is jammer nie. Baie sê wel jammer, maar bedoel dit opsigtelik nie. Ander het dit nog nooit gesê nie, want hulle is dit ook nie. Eerder doodtevrede met wie hulle is en wat hulle doen, met van waar hulle kom en waarheen hulle gaan, en met hoe hulle aldag maak langs dié pad. Natuurlik is hul dalk oor baie dinge spyt. Maar nie berouvol nie. Want dié twee is verreweg nie dieselfde nie, sê Hendrikus Berkhof. Spyt is baie van ons, ja, sommer dikwels, oor baie dinge. Selfs hare-uit-die-kop-trek-spyt. Spyt is treur oor die gevolge van dade, oor wat dit meegebring het. Oor ons nou in die pekel is. Oor ons wens ons wás nie. Oor sake nie anders uitgedraai het nie. Oor dinge só ontwikkel het. Oor ons nie liewer meer ge-dié het en minder ge-daai het nie. Oor die dobbelstene vir ons só geval het. Ons is spyt omdat ons uitgevind is, agtergekom is, uitgevang is. Dat ons planne nie wou werk nie, dat sake skeefgeloop het, dat ons nou hier moet sit met die gebakte pere. Ons is spyt oor baie dinge, ja, maar sonder berou.
Berou is droefheid oor die daad sélf, sê hy. Dit ontstaan altyd in innige verhoudinge, waarin ons wéét ons eie mens-wees is ten diepste verweef met ander. Dit kom as ons iets doen wat dié verhoudinge verbreek, die ander leed aandoen, ons verbondenheid aan mekaar verloën, en daarmee ook ons eie mens-wees. Dis die diepe droefheid dat ons so iets kon laat gebeur, tussen ons en die ander kon laat kom, dat ons dié liefde kon prysgee ter wille van wát-ook-al. Berou beteken dat ons erken dat dit óns skuld is en onsself daarom oorgee aan die oordeel van die ander, om in hul verwonding met ons te maak wat hulle wil, wat regverdig sal wees, ons verdiende loon. Dis die slag as súlke berou stuit op onverdiende vergifnis dat ons ontdek wat genade waarlik is. Bevryding, en nuwe lewe. Toekoms, tesáme. – DJS

GODSDIENS-AKTUEEL
G’n gemaksone. Dís geleentheid; Isak Burger in Godsdiens-aktueel; Beeld, 30.07.2006
Niemand hou van krisis en teëspoed nie. Dit is natuurlik en logies om vir jou ’n veilige gemaksone te probeer skep. Die probleem met so ’n gemaksone is net dat ’n mens geneig is om die goeie as vanselfsprekend te aanvaar en dit wat eintlik genade is, as regte toe te eien. In so ’n gemaksone is ’n mens ook geneig om andere te ignoreer en te vergeet – veral as hulle minderbevoorreg as jyself is. Die kerk het oor die eeue nie hierdie tendens vrygespring nie. Trouens dit lyk amper of daar ’n historiese en tradisionele noodwendigheid in die kerk bestaan om homself te vestig, gemaklik te maak en homself daarna net in stand te hou en die lidmate gelukkig te hou. As ’n dominee of pastoor dít regkry, is die meeste lidmate tevrede. Só ’n toedrag van sake werk onvermydelik ’n gees van onbetrokkenheid, passiwiteit en louheid in die hand. Die kerk word dan ’n klub. Die Groot Opdrag van Jesus Christus en ’n passie vir ongeredde mense, bestaan nog net in teorie. In die Bybel vind jy hierdie tendens gewoonlik ná die eerste geslag. Die gemeente in Efese was maar net 43 jaar oud toe hulle van Jesus moes hoor dat hulle hul eerste liefde verloor het.
God het egter ’n manier om ’n mens (en Sy kerk) se aandag weer te kry en ons weer te laat ontwaak vir die essensiële, die basiese prioriteite. Hy laat soms toe dat ons “nes” so bietjie deurmekaar gekrap word, ons gemaksone versteur word. Nee, ek sê nie Hy is die Outeur daarvan nie, Hy laat net toe dat dit gebeur – omdat ons Sy stem nie meer hoor en dit wat vir Hom belangrik is nie meer vir ons prioriteite is nie. Kyk nou maar wat met die vroeë kerk in Jerusalem gebeur het. Die Bybel vertel dat daar in ’n stadium vervolging teen die kerk in Jerusalem uitgebreek het wat daartoe gelei het dat die kerk noodgedwonge na ander wêrelddele versprei het. Ons praat van die diaspora van die vroeë Christene. Dit het meegebring dat die Evangelie in ’n kort tyd regoor die destydse beskaafde wêreld versprei het. Hoewel dit beslis nie deel van die vroeë kerk se visie of beplanning was nie, (daarvoor was Jerusalem aanvanklik ’n veels te gemaklike en veilige hawe), was dit onbetwisbaar deel van God se agenda. Hy het die wêreld te lief gehad om die Goeie Nuus net in Jerusalem en net vir één volk in stand te hou.
In SA is ons die afgelope klompie jare ook bewus van ’n diaspora wat plaasvind – SAners wat regoor die wêreld verprei het. Sommige is weg omdat die misdaad situasie vir hulle te veel geword het. Andere (veral wit jongmense) is weg omdat hulle geen toekoms vir hulleself hier sien nie. Hulle velkleur het by voorbaat vir hulle sekere deure toegemaak. Ons wat hier agtergebly het, kan ons landgenote oorsee verkwalik en allerhande name noem. Die feit is egter dat SAners van verskillende rassegroepe oor die wêreld verstrooi is. Meer as ’n miljoen in Engeland. Trouens, mens is verwonderd om te hoor waar ons mense hulle orals bevind: Honderde boere wat met oop arms ontvang is in Afrika-lande waar wittes vroeër verdryf is. SAners wat Engelse klasse gee in Oosterse lande. SA kundiges wat deel is van internasionale maatskappye in lande waar Amerikaners nie welkom is nie. Ervare en geharde oud-weermaglede in oorloggeteisterde lande – ek hoor daar is meer as 40 000 SAners in Irak! Min van ons het nie kinders, familielede en vriende wat die laaste paar jaar uitgewyk het en deel van hierdie hedendaagse diaspora geword het nie. Vir my is die belangrikste egter dat ’n groot deel van hulle Christene is!
’n Nuwe sending-fenomeen is besig om te ontwikkel. In ’n wêreld wat klein geword het weens moderne tegnologie, waar die wêreld in die persone van miljoene immigrante (wettig en onwettig) op ons voorstoep is en waar miljoene SAners deur die wêreld verstrooi is, het die kerk ongekende nuwe sendinggeleenthede! Daar is genoeg ontwortelde, kwesbare en brose mense binne bereik van die kleinste gemeente in SA om die liefde van Christus te demonstreer en daar is genoeg Suid-Afrikaanse Christene regoor die wêreld wat moet ontwaak vir die besef dat hulle deel is van ’n Groter Agenda.

‘Daar is nie so baie mense van SA in Australië nie’; Die Burger, 03/08/2006
PORT ELIZABETH. – Daar is nie naastenby soveel SAners in Australië as wat algemeen geglo word nie.’n Geraamde 100 000 gebore SAners is deel van die Australiese bevolking, wat op die meeste 0,5% is van dié land se bevolking, het mnr. Philip Green, Australiese hoë kommissaris in SA, gesê. Dié syfer is eintlik van nóg minder betekenis as in ag geneem word dat 25% van die totale Australiese bevolking buite dié land se grense gebore is. SA is ook nie een van die belangrikste voedingslande vir migrasie na Australië nie, het Green aan die Port Elizabethse Streekkamer van Handel en Nywerheid (Percci) gesê. Altesame 25% van die Australiese bevolking wat oorsee gebore is, kom van Brittanje, altesame 9% van Nieu-Seeland, 5% van Italië en minder as 4% elk van Viëtnam, China, Griekeland, Duitsland, die Filippyne en Indië. Green het benadruk dat hoewel Australië ook ’n vaardigheidstekort het en dié land as ’n aantreklike bestemming vir mense met sekere vaardighede bemark word, vermy die Australiese regering enige stappe wat die vaardigheidsverlies in SA sal versnel. As deel van die Aussies se veldtog om werkers met sekere vaardighede te lok, is internasionale ekspo’s die afgelope ses maande in die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Nederland en Indië gehou. Green besoek vandag die Coega-nywerheidsontwikkelingsone en die Ngqura-hawe om te kyk na toekomstige beleggingsmoontlikhede vir Australiese maatskappye.

NG KERK - NUUS
K 28805: Bekende teoloog (57) sterf; Die Burger, 01.08.2006

KAAPSTAD. – ’n Gewese Kaapse predikant en afgetrede professor in teologie is Vrydagoggend in die Parklands-hospitaal in Durban dood ná ’n stryd teen kanker. Prof. Johannes Albertus (Bobby) Loubser (57), ’n voormalige hoof van die departement van Bybelstudie, en dekaan by die Universiteit van Zoeloeland, is om 06:10 in sy hospitaalbed dood. Hy was vroeër ’n NG predikant in Tamboerskloof. “Hy was ’n alsydige akademikus en het op ’n wye veld in die teologie navorsing gedoen,” het ’n oudkollega en vriend, prof. Johan de Villiers, gesê. Loubser het ’n reeks publikasies in die teologie gepubliseer en was raadslid van die SAanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy word oorleef deur sy vrou, Minnie, en hul vier kinders. Begrafnisreëlings sal later vandeesweek bekend gemaak word.

K 28818: 2 Onskuldig op leerdwaling; NG Kerk moet meer gesprek voer oor geloofsake; Beeld, 29.07.2006Twee teologiedosente van die NG Kerk wat van leerdwaling aangekla is, is gister deur ’SAn kommissie van die ring van Pretoria-Oos onskuldig bevind. Die klagtes teen proff. Jurie le Roux en Julian Müller, altwee van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria, is die jongste in ‘n lang rits van soortgelyke klagtes teen verskeie predikante en teoloë van dié kerk wat van die hand gewys is. Die kommissie sê in sy uitspraak oor Müller dat die hele saak staan in die spanning tussen die kerklike tradisie of “ou, vaste waarhede” (wat die klaers verteenwoordig) en die krities-teologiese geloofsverantwoording van Müller. Die besluite van die algemene sinode oor die gesag van die Bybel en die belydenisskrifte as historiese dokumente toon dat die algemene sinode gekies het om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg. Müller het volgens die kommissie binne die gees en letter van die sinodebesluite gebly. Die kommissie was tevrede met sy sieninge oor Jesus Christus as enigste Middelaar en oor die opstanding van Jesus. Le Roux het die kommissie ook tevrede gestel met sy verduidelikings van sy sienings oor die Goddelike inspirasie en genoegsaamheid van die Bybel, oor die opstanding en maagdelike geboorte van Jesus, oor die bestaan van Satan en die bose en oor sy siening van Messiaanse profesieë in die Ou Testament.Kommissielede het gistermiddag gesê hulle het moeite gedoen met die ondersoek en die kerk kan gerus wees oor die dosente se leer. Die kommissie meen ook die kerk behoort maniere te vind om gesprekke oor geloofsake te bevorder. Vir Müller was die uitspraak ’n groot verligting “ná ’n volle jaar van ’n swaard oor my kop”. Le Roux het gesê hy is bly en dankbaar teenoor die kommissie vir die tyd, moeite en geld wat hulle bestee het om dit ’n billike verhoor vir almal te maak. Mnr. Ferdie Mulder, teologiestudent en een van die klaers, het gesê hy gaan appelleer teen die uitsprake. Hy het ook reeds geappelleer teen ’n soortgelyke bevinding oor prof. Dirk Human, ook van Tukkies. Neels Jackson

KERK - NUUS IN BREë VERBAND
K 28813: Doppers kla 36 dominees aan oor vroue in dié ampte; Beeld, 26.07.2006
’n Groep van 36 gereformeerde predikante wat almal vroeër vanjaar ’n verklaring geteken het ten gunste daarvan dat vroue as diakens, ouderlinge en predikante kan dien, is almal by hul kerkrade aangekla. Vier lidmate van die Gereformeerde Kerk Brits-Wes het dié predikante daarvan aangekla dat hulle die vyfde en negende gebooie oortree het. Die vyfde gebod (Eer jou vader en jou moeder) gaan oor gehoorsaamheid en die negende gebod verbied valse getuienis. Die klaers meen dié gebooie het in gedrang gekom, omdat die dominees hulle nie neergelê het by wat die klaers as die korrekte interpretasie van sinodebesluite sien nie. Van die predikante met wie Beeld gister gesels het, was nie ontsteld oor die klagtes nie. Dr. Kobus van der Walt van Bloemfontein-Suid het gesê hy skrik nie vir die klag nie en dr. Jacob Pretorius van Linden het gesê hy is nie bekommerd nie. Dr. Wim Vergeer van Potchefstroom-Oos het gesê dis ironies dat daar ’n klag teen hulle ingedien word, terwyl hulle nêrens sinodebesluite verwerp het nie. Daarteenoor het die Gereformeerde Kerk Orania in Die Kerkblad bekendgemaak dat hy homself distansieer van die sinodebesluite dat die Gereformeerde Kerke in SA aansluit by die SA Raad van Kerke en deelneem aan die NG Kerk se parlementêre lessenaar. Die klaers sê egter niks oor Orania nie. Vergeer sê dit toon dat hulle die kerkreg gebruik om ’n persoonlike agenda te bevorder. Mnr. Andries Opperman, een van die klaers, het by navraag toegegee dat hy streng gesproke eintlik vir Orania ook sou moes aankla. Hy het egter gesê net die helfte van die fundering van die klag gaan oor die verwerping van sinodebesluite en die ander helfte gaan oor die saak van die vrou in die ampte. Neels Jackson

K 28802: Sendeling van DRK vas oor ‘bedrog’; Burger, 27.07.2006
KAAPSTAD. – ’n “Vermiste” sendeling van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is dié week in die selle van die polisiekantoor in Mussina opgespoor. Past. Oscar Wakandwa van die Come and See-kerk in die DRK is verlede week as vermis aangemeld nadat hy en ’n kollega, mnr. Alphonse Osthudi, vriende na die Beitbrug-grenspos in Limpopo geneem het. Hy doen reeds die afgelope paar maande sendingwerk in SA. Volgens mnr. Charl van Wyk van die Afrika-Christen-aksie (AKA) in Kaapstad is Wakandwa in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vrou probeer help het om by die grenspos ’n permit vir haar motor te kry. “Wakandwa is, nadat hy die permit vir die polisie daar gewys het en om hulp gevra het, summier vir bedrog in hegtenis geneem.” Volgens Van Wyk het Wakandwa vroeër die week in ’n kort telefoongesprek gesê hy word iewers in Pretoria aangehou. Dir. Phuti Setati, nasionale woorvoerder van die polisie, het aan Die Burger gesê Wakandwa word in Mussina aangehou en nie in Pretoria soos hy beweer nie. “Hy is in hegtenis geneem in verband met bedrog in die huur en verhuring van voertuie. Wakandwa het Maandag reeds in die hof verskyn. “Hy sal weer vandag in die hof op Mussina verskyn,” het Setati gesê. Michelé o’Connor

K 28812: Amptenaar wat glo stene steel van kinderhuis, hou dalk pos; Beeld, 28.07.2006
’n Munisipale amptenaar wat glo haar posisie in die burgemeester van Tshwane se kantoor gebruik het om ’n skenking van bakstene vir ’n kinderhuis vir haar eie spoghuis te onderskep, kan dalk haar werk behou. Die Tshwane-metroraad moet nou oor dié saak besluit nadat die voorsittende beampte in ’n tugverhoor aanbeveel het dat me. Emily Kekana in diens van die raad bly. Beeld het in Februarie berig dat Kekana geskors is uit haar pos in die kantoor van vader Smangaliso Mkhatshwa, destydse burgemeester. Sy het steeds elke maand haar salaris gekry. ... Antoinette Slabbert

K 28799: Kerkleiers tot dwangarbeid gevonnis; Die Burger, 29.07.2006
SJANGHAI. – Vier leiers van die ondergrondse Protestantse kerk in China is gister tot twee jaar in ’n arbeidskamp gevonnis, het ’n kerkmonitorgroep gister bekend gemaak. Die vier is ’n maand gelede in hegtenis geneem en by ’n polisiestasie in Langzhong in die provinsie Sichuan aangehou. Die vier is geïdentifiseer as pastore Li Ming, Wang Yuan, Li Mingbo en Jin Jirong van die Chinese huis-kerk-alliansie, wat kerke in China verteenwoordig wat nie deur die regering erken word nie. Hulle is in hegtenis geneem toe hulle die polisie versoek het om 14 gemeentelede vry te laat wat aangekeer is tydens ’n klopjag op ’n erediens wat onwettig gehou is. Kragtens Chinese wetgewing kan vonnisse van tot drie jaar in arbeidskampe opgelê word sonder dat beskuldigdes verhoor word. Kritici sê dié wet word gereeld ingespan om godsdienstige, politieke en etniese andersdenkendes tot stilswye te dwing. China laat net kerke toe wat by die land se amptelike kerkvereniging geregistreer is. Dié vereniging word deur die land se Kommunistiese Party beheer. – Sapa-AP

K 28809: Christene beseer toe China kerk wou sloop; Die Burger, 01.08.2006
Beijing - Christen-inwoners van die provinsie Zhejiang in die ooste van China het met die polisie gebots nadat die owerhede ‘n kerkgebou wou sloop wat volgens hulle onwettig is, het ‘n menseregte groep en inwoners gister gesê. China se regerende Kommunistiese party is ateïsties maar laat godsdienste toe wat amptelik toesig aanvaar. In Xiaoshan’n bloeiende nywerheidsvoorstad van Hangzhou, die provinsiale hoofstad, woon egter baie Protestantse Christene wat staatsbeheer oor godsdiens verwerp. ... Saterdag het sowat 3 000 Christen-inwoners van die dorp Dangshan daar gebots met die polisie wat probeer het om die sloping van ‘n kerkgebou af te dwing. Die groep het gesê 20 van die inwoners is in die botsing beseer.

Virgin angels' wings clipped; News24, 03/08/2006
Johannesburg - Virgin Mobile's controversial ad about heaven will after all be axed after a group of Christians threatened to boycott the company. The television advertisement, showing a man dying and then returning from heaven to earth because he was still tied to his cellphone contract, upset some Christians deeply because they interpreted it as blasphemous.
However, the Advertising Standards Authority dismissed the objections to the ad. The result was that some furious believers starting speaking about boycotting Virgin Mobile. Dominee Hennie van Wyk of the Reformed Church in Pinetown wrote to Virgin Mobile that he had no other choice but to campaign against the company. In his personal capacity, he would ask every member of his congregation not to support Virgin Mobile. Virgin Mobile spokesperson Nicholas Maweni said on Wednesday the company was concerned about any group of people that considered such steps and that the company had not intended to cause offence. Maweni said the ad would be taken off the air, but could not say when. It could take weeks. The marketing department was already working on other advertising material, Maweni added. Neels Jackson
[Virgin los advertensie oor hemel nadat kerk kla; Beeld, 02.08.2006]

BRIEWE:
K 28815: Virgin hoort nie in ons ekonomie; Plonia Smit, Vryheid; Beeld, 26.07.2006
“Virgin Mobile se advertensie is godslasterlik. Die uitbeelding dat ’n mens nie in die hemel toegelaat word tensy jou selfoonkontrak betaal is nie, verkleineer en beledig dít waarin Christene glo. ...”

K 28814: Verwyder Virgin se advertensie! Ida Pretorius, Alberton; Beeld, 26.07.2006
“Hiermee wil ek ook my misnoeë uitspreek oor die Virgin Mobile-advertensie. Ek voel as Christen gewalg om te sien hoe dit waarin ek glo, verkleineer word. My kinders is vier en ses jaar oud, en het gevra: “Mamma, is dit God?”, en “Is dit hoe die hemel lyk?” nadat hulle gesien het hoe die wulpsheid van die engele, en die wreedheid van die “hekwagter”, in hul gesigte uitgebasuin word. Verwyder die advertensie, asseblief!”

Kla ook oor ander gemors op TV; Estelle Grobler, Pretoria; Beeld, 26.07.2006
“Met al die moord en doodslag is Virgin Mobile se advertensie vir my ’n aangename en humoristiese afleiding! Ek het dit werklik geniet en as Christen geen aanstoot geneem nie, omdat ek heeltemal oud genoeg is te verstaan dat dit net Jack se fantasie is.... Met die totale sosiale verval wat nou aan die orde van die dag is en jong kinders gewelddadig laat optree teenoor mekaar en weerlose diere, sien ek elders baie groter probleme!”

OOR KERKHERENIGING 1
Laat lidmate met vreugde verenig; Nico Botha in Godsdiens-Aktueel; Beeld, 23.07.2006
Die feit dat die leierskap van die NGK en die VGKSA onlangs besluit het om die eenwordingsproses binne drie jaar te voltooi, behoort met groot dankbaarheid begroet te word. Met wedersydse skuldbelydenisse en vergifnis en in ’n gees van versoening – so word vertel en so staan dit in die verklaring wat ná die Kempton Park-byeenkoms uitgereik is – is die nagmaal gevier. Welgedaan.Daar is ’n aantal interessanthede in die verklaring waarop ek wil ingaan in die hoop dat dit nou nie alte veel na ’n vlieëvangery sal lyk nie.
*Eerstens is daar die metafoor wat vir die eenwordingsproses aangewend word, by name ’n verbondsverbintenis. Dis uiters interessant dat daar nie weggeskram word van die gedagte van ’n verbond nie. Was dit nie juis die verbondsteologie van die NGK wat sterk deel gevorm het van die teologiese regverdiging van apartheid nie? Die gedagte aan “uitverkorenheid” en gelokaliseerdheid in Afrika en SA nie? En was daar nie vanuit die geledere van die VGKSA (voormalige NGKA en NGSK) ook maar ’n sterk beroep op die verbondsteologie in terme waarvan die onderdruktes in SA met Israel geïdentifiseer sou word nie? Miskien moet die aanwending van verbondstaal in hierdie nuwe eenwordingsproses positief soos volg verstaan word: dat die bevrydende, versoenende en genesende inhoud van ’n verbondsverbintenis pas nou gestalte kan kry. Waar die NGK en die VGKSA in swakheid en half sonder bevoorregting mekaar tegemoet kom, effentjies ontsenu deur die revolusie van 1994, stamelende op die rand van die publieke arena. Dis soms ongelooflik watter kreatiewe kragte ontketen word as die kerk skielik tot diepe nederigheid gedwing word. Ook interessant in die verklaring is om in dieselfde asem amper te sê ons is nie onder enige politieke en sosiale druk om te doen wat ons doen nie, maar terselfdertyd verstaan ons wel deeglik die politieke implikasies van wat ons beoog. Waar ’n mens soms nog groot woorde soos liefde, versoening, geregtigheid en vrede as ’n skuilbossie kan gebruik, beland ’n mens met woorde soos nie-rassigheid, inklusiwiteit en multikultureel, vierkantig in die politieke arena. En dis goed en reg so, want ’n onpolitieke kerk staan per definisie aan die kant van die maghebbers. Binne die konteks van die eenwordingsproses tussen die NGK en die VGKSA, ietwat positiewer gestel: daar is weinig ander kerke in SA wat dieselfde soort bydrae kan lewer tot ’n nuwe, verdraagsame SA nasie soos die beoogde verenigde gereformeerde kerk.
*n Ander interessantheid in die verklaring is die verbintenis tot Afrika. Dis egter jammer dat dié verbintenis onbedoeld of eintlik maar weer ’n negatiewe duiding kry. Tereg praat die verklaring van lewensgevaarlike probleme met verwysing na armoede en vigs, maar niks word gesê oor die hoopgewende elemente in die kontinent nie. Behoort die uithouvermoë van mense in Afrika, van alle kleure, onder tergende omstandighede soms, nie as uiters positief aangeteken te word nie? Vorm die oorblyfsels van menslike solidariteit en ’n sterk gemeenskapsgevoel nie die basis vir die kerk se soeke na volhoubare koinonia (gemeenskap) nie? Is die verstaan van die familie in Afrika in breë, inklusiewe terme nie ’n belangrike aanknopingspunt vir ons verstaan van die kerk as God se familie nie? Is die verskuiwing van die swaartekrag van die Christendom na Afrika nie op sigself ’n hoopgewende werklikheid nie? Al moet ons dan soms ernstige vrae stel oor die kwaliteit van die Christendom in ons kontinent?
Al bied die nuwe eenwordingsproses ’n geleentheid om op voorbeeldige manier te wys dat die dinge in die kerk tog ’n bietjie anders gedoen word as in die politiek. Byvoorbeeld, waar politieke leiers soms ernstige besluite neem wat meer te doen het met hul eie oorlewing, sonder om hul volgelinge respekvol daaroor in te lig, behoort dit in die kerk anders te verloop. Eerder as om die buit onder ’n uitgesoekte klompie te verdeel en te baai in die heerlikheid van wat bereik word, behoort ons kerkleiers binne die NGK en die VGKSA seker te maak dat ’n breë vlak van lidmate met vreugde meedoen. Ons vertrou ons kerkleiers hierin en sal bid dat die nederigheid en beskeidenheid wat blykbaar in Kempton Park teenwoordig was, hulle sal vergesel. [Prof. Nico Botha is hoof van die departement sendingkunde aan Unisa.]

OOR KERKHERENIGING 2
Engels, Engels in ons kerke? Jaap Steyn in Beeld-Forum; Beeld, 02.08.2006
Verskeie briewe het in koerante verskyn oor die voorgenome vereniging van die NG Kerk en die VG Kerk. Baie briewe is krities, en dit lyk nie of alle lidmate oorloop van entoesiasme vir die plan nie. ’n Paar het kommentaar gelewer op die naam. Volgens ’n berig met ’n kerklike woordvoerder as bron word veral één voorlopige naam “op die tong rondgerol”. Dit is die “United Reformed Presbyterian Church in Southern Africa/ Verenigde Gereformeerde Presbiteriaanse Kerk in Suidelike Afrika”. Hoe ek die naam ook al “rondrol op die tong”, die smaak bly maar vrank. Waarom so ’n lang, moeilike naam, waarom Engels eerste? Dit sou ’n vergissing wees om te meen dat die naam van ’n verenigde kerk ’n ondergeskikte kwessie is. ’n Naam kan selfs ’n belangrike rol in ’n kerkskeuring speel. Dít was die geval nadat die NG Kerk en die Hervormde Kerk in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) in 1885 verenig is. Dr. S.P. Engelbrecht, ’n Hervormde kerkhistorikus, skryf dat die sittings waarop die naam bespreek is, stormagtig was. G.D. Scholtz, ’n NG historikus, sê dat die eerste onderhandelings byna misluk het oor die kerknaam.Toe oor ’n voorlopige naam gestem is, het “NH of G Kerk” en “NG of H Kerk” ewe veel stemme gekry, en daar is besluit om te loot. Die twee name is op stukkies papier geskryf, in ’n hoed geplaas en ’n ouderling moes een uithaal. Dit was “NH of G”. Maar ’n paar jaar later, toe die verenigde kerk finaliteit oor ’n naam moes kry, was die verskille groot. Kort daarna was daar maar weer twee kerke: Nederduitsch Hervormd en Nederduits Hervormd of Gereformeerd. Scholtz meen dat die geskiedenis anders sou verloop het as gewag is met die vasstel van die naam.
Dit het gebeur hoewel die omstandighede vir kerkvereniging gunstig was – dalk gunstiger as tans. Die twee kerke het nooit oor belydenisskrifte verskil nie. Die lidmate het tot dieselfde volk behoort en dieselfde taal gepraat. Onderhandelinge het geskied in ’n atmosfeer van eensgesindheid ná die suksesvolle afloop van die Eerste Vryheidsoorlog. Almal het besef dat Engeland, hul erfvyand, ’n permanente bedreiging vir hul land se onafhanklikheid vorm.
As kerkmense sterk voel oor ’n saak, is skeurings moontlik. Te midde van die Duitse besetting van Nederland en verskrikkinge van die Tweede Wêreldoorlog het ’n skeuring in 1944 in die Nederlandse Gereformeerde Kerke plaasgevind. ’n Paar jaar gelede het die Nederlandse Gereformeerdes, Hervormdes en Lutherane die Protestantse Kerken van Nederland gevorm, maar ná ’n nuwe skeuring is daar nou ook “Hersteld Hervormde” gemeentes. Daar was hofsake oor kerkeiendom, soos in die 1890’s in Transvaal en ná die vereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika. In een kommentaar is onlangs gepraat van die “kragtige uitwerking” wat die kerkverenigingsproses kan hê “op die bou van ’n ware reënboognasie”. Maar hopelik geskied hierdie nasiebou nie soos dié van die politieke maghebbers – naamlik deur die vooropstel van Engels – nie.
Wat ’n mens terugbring by die naam. Die NG mense was dié keer toegeefliker as voor 1885. Die “N” van die historiese “NG” is maklik prysgegee. Maar waarom kom Engels eerste? Om die verlies dieper in te vryf? Simboliseer dit dalk ’n toekomstige voorkeur vir Engels? In die lig van wat in ander instellings soos universiteite gebeur, is dit sinvol om die taalkwessie te opper. ’n Hoë kerkman het ’n tyd gelede gesê dat dit nie die kerk se taak is om ’n taal te handhaaf nie. Maar dis ook nie die kerk se taak om ’n taal te benadeel nie. Dís wat volg as enige instelling se gevestigde taal deur ’n ander taal vervang word. In die kerk se geval kan dit gebeur met sy publikasies, kerkdienste en rings- en sinodevergaderings. Dit moet ’n vreemdeling in Jerusalem wees wat meen dat die gemiddelde NG lidmaat geesdriftig is om op te gaan in ’n URPCSA/VGPKSA. Baie lidmate is reeds verbitter oor politici se oorlog teen name wat verband hou met die Afrikaner-geskiedenis. Die twee kerke moet buitensporige naamsveranderings vermy, moontlike taalgevolge ondersoek, en seker maak dit geskied nie nie ten koste van Afrikaans nie. [Jaap Steyn was professor in Afrikaans aan die Vrystaatse Universiteit.]

K 28800:
Skepping en Evolusie; alternatiewe teorieë;
Die Burger, 29.07.2006
BIED kreasionisme ’n alternatief vir die evolusieteorie? Die Britse uitgewery Ashgate het pas ’n nuwe titel in die reeks Ashgate Contemporary Thinkers on Religion gepubliseer: Brümmer on Meaning and the Christian Faith; Collected Writings of Vincent Brümmer. Ashgate, Hampshire, 2006. (Hardeband, 476 bladsye, ISBN?0 7546 4028 0.)
VINCENT BRÜMMER, oorspronklik van Stellenbosch, was voor sy aftrede in 1997 hoogleraar in godsdiensfilosofie aan die Universiteit van Utrecht in Nederland. In die meegaande vertaalde uittreksel uit sy versamelde werk besin hy oor die skeppingsleer en die evolusieteorie – ’n onderwerp wat weer nuwe aktualiteit in SA verkry het met die onlangse verskyning van Leon Rousseau se Die Groot Avontuur X Wondere van die Lewe op Aarde. ‘N UITTREKSEL, vertaal uit hoofstuk 9 van: Brümmer on Meaning and the Christian Faith; Collected Writings of Vincent Brümmer. Volledige berig beskikbaar by ngkinlig@mweb.co.za

K 28808: Die ‘Onfeilbare waarheid’:Deon Thom, George
“EK wil graag J.A.van den Heever en L.W. Retief se oproep dat ons duidelik moet onderskei tussen “wat ons weet en wat ons glo” (Brieweblad, 27/7) ter harte neem. Een struikelblok is egter sommige evolusioniste se triomfantelike sekerheid dat evolusie sonder ’n almagtige en alwyse God plaasgevind het, terwyl dit vir gelowiges duidelik is dat die skeppingsproses deur God beplan en beheer is. ...”

K 28807: Slegs as jy glo ...: Derek van Rensburg, Somerset-Wes, Die Burger, 01.08.2006
“... Ek kan nie beter vaar as om uit bogenoemde brief en die Skrif aan te haal om die sleutelrol van geloof te beklemtoon nie: Van den Heever en Retief sê: “Net soos die bestaan van ’n opperwese nie ‘bewys’ kan word nie (dit is onses insiens ook nie nodig nie), bestaan daar nog minder feitelike bewyse vir die bestaan van ’n Intelligente Ontwerper. Mense glo dit doodgewoon en daarom het dit niks met feite te doen nie.” ...”

ONS WêRELD RONDOM ONS
K 18814: XP praat gou Afrikaans; Beeld, 27.07.2006

Kaapstad. – Ná ietwat onsekere welslae met die vertaling van die gewilde Microsoft-programmatuur na Zoeloe en Tswana vroeër vanjaar, hoop Microsoft dat Suid-Afrikaanse rekenaarbedryfstelsels voorts ook in Afrikaans sal tonglosmaak. “Dis ’n belegging wat ons as maatskappy maak om ’n meer geïntegreerde deel van die Suid-Afrikaanse samelewing te wees, eerder as ’n dryfkrag vir inkomste, siende dat dit verniet afgelaai kan word,” het mnr. Jonathan Hatchuel van Microsoft SA gister gesê by die bekendstelling van die “Afrikaanse Koppelvlak-pak” (interface pack) vir Windows XP. Afrikaanssprekendes kan voorts ’n Afrikaanse “huid” om Windows XP span, wat buiten woorde onder kopiereg soos Outlook Express en Windows Explorer, Afrikaanse weergawes bied. By navraag oor die aftrek wat XP in die ander twee landstale sedert April gekry het, kon Hatchuel nie data voorsien nie. ... “As jy jou Bybel in Afrikaans kan lees, hoekom kan jy nie jou kantoorwerk daarin doen nie,” het hy gevra. In Afrikaans is Windows XP se bystand-“wizard” herdoop as “ghoeroe”, volgens prof. Gerhard van Huyssteen van Noordwes-Universiteit. “Dis juis die gewone woorde, goed soos ‘save’ en ‘print’ en ‘file’ wat almal alewig net in Engels sê . . . daai soort van ding van gewone omgangswoord wat ek dink ’n baie groot wins is,” het mnr. Tom McLachlan van Unisa gesê. .. Me. Louise Malherbe van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum het gesê die Afrikaanse programmatuur is veral goeie nuus vir opvoedingsmoontlikhede in die Wes-Kaap. Le Roux Schoeman

K 28804: Gibson vra Jode om verskoning; Die Burger, 02.08.2006
LOS ANGELES. – Die akteur Mel Gibson het gister om verskoning gevra vir die anti-Semitiese uitsprake wat hy die naweek gemaak het terwyl hy dronk was. Gibson het gevra of hy Joodse leiers kan ontmoet om sy optrede te verduidelik, maar een van die leiers het gesê hy stel nie in woorde belang nie, net in dade. “Daar is geen verskoning nie, en daar behoort ook geen geduld te wees met enigiemand wat enige anti-Semitiese uitsprake dink of maak nie,” het Gibson in ’n verklaring gesê. “Ek wil veral om verskoning vra aan lede van die Joodse gemeenskap vir die venynige en kwetsende woorde wat ek aan ’n geregsdiensaar gesê het die aand toe ek in hegtenis geneem is.” Gibson, wat in 2004 die lokettreffer The Passion of the Christ geregisseer het, is vroeg Vrydagoggend weens ’n spoedoortreding aangekeer. Hy het, na berig word, onder meer in sy woede gesê “die Jode is vir al die oorloë in die wêreld
verantwoordelik”. Die verslag van departement van die Los Angeles-sheriff, waarvan uittreksels op die webwerf TMZ.com verskyn het, is deurspek met anti-Semitiese uitsprake en vloekwoorde wat die akteur kwytgeraak het. Luidens die verslag is ’n oop bottel tequila in Gibson se motor gevind. Dit was egter sy anti-Semitisme wat die grootste protes in Hollywood ontketen het. The Passion, wat sowat $610 miljoen by die loket verdien het, het destyds kritiek ontlok omdat dit na bewering Jodehaat aanblaas, maar Gibson het wal gegooi teen die aantygings dat hy óf die fliek anti-Semities is. – Reuters

K 28803: ‘Wetgewing sal gays nie laat trou’; Die Burger, 02.08.2006
PRETORIA. – Luidens ’n studie van die Amerikaanse Institute for Marriage and Public Policy maak ’n baie klein persentasie gay mense in lande wat gay-huwelike erken, daarvan
gebruik. In Nederland, waar gay-huwelike reeds sedert 2001 wettig is, het tussen 2% en 6% van alle gays tot die groot stap oorgegaan. Ds. André Muller, van die Reformerende gemeente wat gay lidmate in Pretoria bedien, het gister gesê hy verwag nie dat duisende gays in SA sal wil trou wanneer wetgewing verander word nie. Muller steun nie gay-huwelike oor die getal mense wat daarvoor vra nie, maar ter wille van die individu wat die begeerte het om te trou. – Neels Jackson

Byna 11% van SA het MIV’; Die Burger, 03/08/2006
PRETORIA. – SA se 47,4 miljoen inwoners kan verwag om net meer as ’n halfeeu op aarde deur te bring. Dít blyk uit Statistieke SA (Stats SA) se halfjaarlikse bevolkingsverslag, wat vandeesweek bekend gestel is. Luidens die verslag is SAners se lewensverwagting by geboorte tans gemiddeld 50,7 jaar. As mans en vroue egter apart beskou word, leef mans gemiddeld 49 jaar, terwyl vroue gemiddeld 53 jaar oud word. In die Wes-Kaap is vroue se lewensverwagting egter 67 jaar, maar in KwaZulu-Natal nie eers 50 nie. In Gauteng kan mans verwag om darem die ouderdom van 54 te bereik en vroue 57.
Stats SA raam dat 5,2 miljoen SAners – of 11% van die bevolking – tans MIV-positief is. Die groep wat die ergste hierdeur geraak word, is vroue tussen die ouderdomme van 15 en 49, waar 20% MIV-positief is. Dié syfer het aansienlik gestyg van die 16,1% in 2001. Stats SA gee toe dat dit weens gebrekkige inligting moeilik is om gevolgtrekkings te maak oor migrasiepatrone, maar raam tog dat daar ’n netto-toename van 205 000 swart (“African”) mense sal wees van 2006 tot 2010. In dieselfde tydperk word die netto-afname in die aantal nieswart (non-African)-mense geraam op 48 000. Die uitwaartse migrasie van wit mense, wat in 1991 tot 1995 meer as ’n kwartmiljoen was, sal mettertyd afneem, en die immigrasie van swart mense sal voortduur, voorspel Stats SA. Suid-Afrika se bevolkingsgroei het luidens die verslag sedert 2001 stelselmatig afgeneem van 1,25% tot die huidige 1,06%. Antoinette Slabbert

No comments: